Skip to main content

Eenkant toe...op 1ste Sondag in Augustus

My belewenis van 'n Sondag alleen...


Teen die heuwel - die Tygerberg heuwel
Teenoor die berg - die Tafelberg
Met ver langs, in die oog, die see - die Bloubergsee
Voor my 'n rietomsoomde dam - 'n bruin dam met eende
Links van my hoe bome - Bloekombome
Reg langs my 'n grys boomstomp- 'n afgekapte grysaard.

Daar is tekens van mense - hier 'n man met hond
daar 'n vrou met kind
hulle is min , en dis goed so

Dis 'n soel Sondag met son bestreel
Die nou-en-dan se briesie is nog winters
Die belofte van lente is daar...

En ek? - sit op my roesrooi opvoustoel
en weerkaats die oranje van die Mangovlug
wat bokant my opstyg.

Doelbewus is ek hier - eenkant in die natuur
wat troos, vernuwe en inspireer
dalk op soek na antwoorde - Sy stem hoor?
Na hartelus verlang -as jy wil
Niemand word belas...
Mymer net of dalk murmereer...

Vrede is hier in die natuur
een eend jaag 'n ander, tarentale pik-pik
en mens word bewus van geveerde vriende
tot 'n meeu in eensame vlug
hoekom maak mense die lewe soms 'n klug?

vermoeidheid met die alledaagse -verhoudings
wat aftakel - dryf my na buite, na die son
tyd vir opbeur  opbou  opskerp, en 'n oplewe
van my lewe - wat ek graag feestelik wil hou!

Comments