Ek her vir die eerste keer in 'n lang tyd weer die Sondagmiddag teneergedruktheid.... en vir geen rede nie! Ek verlang na mense wat ek nie eers ken nie! En na my familie en veral na my kinders. . . But no matter- ek gaan sommer vanaand kerk toe en ek weet die Here lig my altyd weer op.
Ek sien die eerste deel van my pensketse van my treinreis het verdwyn- so ek sit dit weer op - leer ook maar
En net een foto vandag!
Ek sien die eerste deel van my pensketse van my treinreis het verdwyn- so ek sit dit weer op - leer ook maar
En net een foto vandag!
Pensketse van ‘n treinrit, Kaapstad – Johannesburg Retoer
‘n Oorslaaptrein en stasies met name soos Nelspoort, Merriman, Hutchinson en Oranjerivier klink vir my tog te interessant en ou-wêrelds! Dus vertrek ek na Johannesburg en Pretoria , vir ‘n weeklange kuier .
Gestewel en gespoor teen die koue Noorde, klim ek ,my groot vet blou tas, ‘n swart toksak vol boeke , nog ‘n drasak met dit en dat en my styfgeknypte handsak op Bellville stasie op die trein met die rugbyliedjie-naam!
Vir my voel hierdie romantiese manier van reis so reg; mens moet net nie haastig raak nie! Ek sit graag in die eetwa met sy groot vensters, en staar na die Karoo landskap ,teug aan my warm koppie Joko tee, terwyl ek wag op my “Full English Breakfast” wat nie teleurstel nie !
En toe - die nag se wedervaring- ek noem dit -
“Lemoncreams en Fanta op De Aar”
Dis drie-uur in die koue Karoonag. Skielik is ek wawyd wakker – dit moet De Aar wees!
Met ‘n lang skuur en skreeu van treinwiele kry ons ,ons staan langs die perron.
Nuuskierigheid laat my uitstaar deur die venster. Buite wag opgebondelde mense met bont plastieksakke en kopdoeke- hulle haas verby na die derdeklaswa. En dan hoor ek hom in die treingangetjie. Hy groet sy tannie of sus of ouma kliphard, heserig en oordadig “ Dankie my ousie! Waardeer jou… Mooi loop my ousie…” ens en klink my Ousie en geselskap gaan nou net hier in die gang voor my deur uitkamp en kommentaar lewer!
Nouja van slaap is daar nou geen sprake. Dan maar iets eet! Vroetel in die kossak en kry my “Lemoncreams” en ‘n halfbottel Fanta Nog net vier ure , dan kry ek my warm mieliepap wat ek gister al onderhandel het met die treinsjef !( Dit was darem op die spyskaart)
Ja treinry is vir my trommeldik lekker!
Later lê ek en dink oor die hele treinry ding en voel so daaroor -
Vyfster-ervaring op die slaaptrein
Ster een - is vir die fluweelsagte swart nag met helder sterre as toegif en die vars lug
Ster twee - is vir die sussende wieg en die gerusstellende klikke-klak van treinwiele
Die derde ster - is vir die vriendelike kateljong, oftewel “ bedding boy“ met sy spierwitte lakens en sterk arms vir tasse lig! En volop toiletpapier!
Ster nommer vier - word gegee vir n eerlike koppie tee, die sjokolade mousse en die R35.00 ontbyt.
Die vyfde ster - gaan vir die ou-wêreldse sjarme van stadig kronkel oor die winterlandskap van die Hoëveld, die Karoo and die Boland!
Wag, laat ek weer terug vroetel in my knus bed en al wiegend wegdompel na droomland!
En met die terugkeer. . . .
Oggendrooi – op pad terug - op pad na die Kaap….
My uitsig op die vroeë oggend Karoo is onverbeterlik! Rosige geelpienk lig lê sag op die veld en bossies. Plat en puntige klein berge vorm die agterhoede.
Beaufort –Wes - en ek lê warm in my pienk japon in my treinbed, mus op die kop en oë op die verbygaande Karoo-lewe. En ek weet – ek?… ek wil nog baie reis - dis in my ouma en my bloed!
Prince Albert Road - dis dor , dis grysvaal en amper niks. Net die staalgrys pad, die N1 streep blink hier verby. Dis wyd en dis oop en in die ylblou lug kan jy die enkele wolkies tel - ja ons pragtige uitgestrekte land in Afrika.
Afgesny van nuus- ‘n heerlike stilte, sonder sorge. Ai ,maar sou Madiba nog lewe? Het die koninklike baba al gekom? Die sowat sewe ure van treinry wat nog voorlê maak my klou aan die laaste bietjie wegwees van die werklike lewe.
Laingsburg. - Pas verby ‘n stasietjie met die naam Gemsbok! Vanwaar sou die naam kom? Die ou stasies of “sidings” is verwaarloos , perrone toegegroei- en mens wonder wat het lank gelede alles hier plaasgevind.
Al teken van lewe is die teerpad met sy voertuie wat onder ons uitry… want die trein staan kort-kort, glo vanweë elektriese toevoer of wat ookal- die vordering is stadig, maar ‘n mens gee nie om nie, want dit verleng die reis! ‘n Murasie hier – ‘n ou geroeste wrak daar, en dit alles laat mens dink aan die frase- “onafwendbare agteruitgang “ -dalk alles deel van die prys wat ons moet betaal vir die nuwe Suid Afrika?
Oral is daar tekens…. treine wat drie ure laat loop, tekort aan treinpersoneel, gemiddelde diens, maar nouja, die Afrikaners hier op die trein is plesierig. Hulle pak mandjies kos uit, verlang so bietjie na die vroeër treine se flinke diens, maar gesels en lag en skerts met die treinbestuurder, voorheen die kondukteur. Vir my is dit nie net blote aanvaarding, maar meedoen aan ons nuwe land met al sy diversiteit en sy steeds hoopvolle toekoms.
So in die loop om koffie te gaan koop, sien mens deur die oop deure mense wat radio luister, kaart speel , boek lees of kuier. Ja kyk ! ons mense is aanpasbaar!
En skielik word dit bewolk en oral lê blink poeletjies water en ja werklik die bosse lyk groener en ons weet die Kaap is nie meer ver nie! Matjiesfontein… en wat hoor ek hier in die gang af – boeremusiek? - amper asof ons die ou Engelse hoofkwartier wil uittart?
Die rëendruppels spat skieilik teen die treinruit en die bossies word al groener Nou gaan dit al mooier word en ek is opnuut bly oor die Kaap se kontraste- berge en wingerde, vrugteboorde- die nat maar liewe Kaap!
Ek dink weer aan die Hoëveld se vaalverbrande landskap en die verbrokkelde stasies van die Wesrand – my jeugplek… dis hartseer, maar my skoolvriende en familie maak op daarvoor met sagte woorde en bekendheid!
So mettertyd het ons trein vier ure agter geraak en nou kan ons nie meer wag –elk vir sy eie stasie ,nie. Ons sleep tasse die gangetjie af, want weet nie hoe lank die trein sal staan nie- mense begin selfone inspan om hul mense te laat weet wanneer ons dink ons sal arriveer. Worcester- Wellington, Hugenot en dan uiteindelik Bellville- my stasie.
Moeg maar tevrede , besef ek hierdie ervaring was eintlik ‘n avontuur….. en ja teen die lekker pensionaris afslagprys doen ek dit weer!
Comments
Post a Comment